Wie is Ons?

Die naam van die kerk is:

Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland/Afrikaans Christian Church of New Zealand

Die Kerk is outonoom en funksioneer onafhanklik van enige ander kerk.


Die ACK van NS is ‘n onafhanklike denominasie wat in NS ontstaan (1998) het weens ‘n behoefte onder ‘n groep Suid-Afrikaners aan ‘n geestelike bediening in Afrikaans. Elke gemeente het ‘n unieke karakter wat voortspruit uit die samestelling van mense wat die Here daar plaas. Die lidmate kom uit ‘n wye verskeidenheid denominasies in Suid-Afrika. Dit beteken dus dat dit vir almal ‘n nuwe ervaring is van kerk-wees. Dit is wonderlik bevrydend en verrykend, want ons leer by mekaar en leer ook om mekaar se verskillende maniere van aanbidding te akkommodeer en te aanvaar.

Dit is ‘n wonderlike geleentheid om verby die (menslike) verskille en geskille te kyk en die eenheid van gelowiges in Jesus Christus te beleef. “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal” (Efesiërs 4:4-6).

Ons Visie

Om as God se kinders ‘n geestelike tuiste vir hoofsaaklik Afrikaanssprekendes te skep waar ons dienend omgee vir alle mense en so uitvoering gee aan die opdrag van Christus om dissipels van alle mense te maak.